Die eerste wykskool in Zastron is in 1877 gestig onder die leiding van mnr. Willem R. Van der Merwe. Die getal leerders het nie hoër gestyg as 25 op die rol nie. Die skool moes sluit weens ‘n gebrek aan ‘n onderwyser in 1879. Later het die skool in 1881 met 18 leerlinge heropen, maar is in dieselfde jaar weer gesluit tot Julie 1882. Mnr. R.G. de Vries open die skool met 20 leerlinge op die rol. In die jaar 1884 breek beter tye aan vir die skool.
Die N.G kerk het ‘n belangrike rol gespeel in die wordingsjare van die skool in Zastron. Die leerders het in die jaar 1904 Nederlands leer lees en skryf en Engels was ‘n belangrike vak. Tydens die oorlog is alles tot op sy fondament vernietig en die gemeenskap moes weer herbou. In Januarie 1904 is die Zastronse Goewermentskool geopen met mnr. Rowan as prinsipaal en 5 ander leerkragte.
In 1920 het die skool sy eerste woonhuis ingewy, vandag bekend as Rowan koshuis. In 1941 is die tweede koshuis vir die skool gebou wat vandag bekend is as Môrelig. Die getalle van die skool het spoedig toegeneem en daar moes hard gewerk word om nuwe geboue te kry. In 1920 – 1922 was daar ‘n geweldige styging in getal leerlinge tot 715. Daar was weer ‘n tekort aan klaskamers. Privaat woonhuise en die stadsaal moes dien as skoolkamers. In 1926 is die Hoërskool gebou opgerig, wat steeds vandag dien as die gebou waar alle Zassies skoolgaan.
Zassies dra trots aan die geskiedenis van die skool en sal in die jaar 2025 die skool se 148 ste verjaardag vier onder die leiding van mnr. I.D Steyn as skoolhoof, wat self ‘n oud-Zassie is.